Soenda-eilande Inheemse naam: Kepulauan Sunda | |
---|---|
Ligging van die Soenda-eilande | |
Geografie
| |
Ligging | Suidoos-Asië |
Koördinate | 2°00′S 110°00′O / 2.000°S 110.000°O |
Argipel | Maleise argipel
|
Hoofeilande | Borneo, Java, Soelawesi, Soematra |
Oppervlakte | 1 536 286 vk km |
Hoogste punt | Berg Kinabalu 4 095 m |
Administrasie | |
Broenei
| |
Hoofstad | Bandar Seri Begawan |
Grootste stad | Bandar Seri Begawan (50 000)
|
Indonesië | |
Hoofstad | Djakarta |
Grootste stad | Djakarta (9 607 787)
|
Maleisië | |
Hoofstad | Kuala Lumpur |
grootste stad | Kuala Lumpur (1 768 000)
|
Oos-Timor | |
Hoofstad | Dili |
grootste stad | Dili (222 323)
|
Singapoer | |
Hoofstad | Singapoer |
grootste stad | Singapoer (5 607 300)
|
Demografie | |
Bevolking | 252 miljoen
|
Bevolkingsgroepe | Hakka, Han-Chinese, Javane, Maleiers, Soendanese, Tamils |
Die Soenda-eilande (Indonesies en Maleis: Kepulauan Sunda) is 'n argipel in Suidoos-Asië wat vanaf die Maleise Skiereiland in die noordweste tot Nieu-Guinee in die ooste en Taiwan in die noorde tot die kontinent Australië in die suidooste langs die ewenaar streek. Die argipel bestaan uit vier groot en duisende kleiner eilande en word deur 'n tropiese klimaat gekenmerk. Saam met die Filippynse eilande en die Molukke vorm die Soenda-eilande die Maleise argipel. Die grootste van die Soenda-eilande is Borneo met 'n oppervlakte van 743 330 km², terwyl Java met 'n bevolking van sowat 145 miljoen die mees bevolkte is. Java word ook as belangrikste van die vier Soenda-eilande beskou, aangesien hier die Indonesiese hoofstad Djakarta en ander groot stede lê.
Die Soenda-eilande word begrens deur die Indiese Oseaan in die suide en weste, die Suid-Chinese See in die noorde, die Sulu- en Celebesseë in die noordooste, die Molukke- en Bandaseë in die ooste asook die Timorsee in die suidooste. Belangrike seë binne die argipel sluit in die Java-, Bali-, Flores- en Savuseë wat almal in die suide van die Soenda-eilande geleë is.
Die grootste deel van die Soenda-eilande word deur die eilandnasie Indonesië beslaan. Die grootste deel van Borneo se kus langs die Suid-Chinese See vorm die oostelike deel van Maleisië met die klein eksklawe Broenei tussenin, terwyl die oorblywende deel van dié eiland tot Indonesië behoort. Aan die suidoostelike einde van die Straat van Malakka is die stadstaat Singapoer geleë. Die oostelike deel van die klein eiland Timor word deur Oos-Timor beslaan, terwyl die westelike deel aan die Indonesiese provinsie Oos-Nusa Tenggara behoort.
Op die Soenda-eilande word veral Maleis-Polinesiese tale gepraat, net op die oostelike eilande word ook Papoeastale gebesig. Islam is die belangrikste godsdiens, veral in die drie lande Broenei, Indonesië en Maleisië; Oos-Timor is 'n hoofsaaklik Rooms-Katolieke land, terwyl Singapoer oor 'n gemengde bevolking beskik. Kleiner eilande soos Bali en Lombok beskik oor 'n aansienlike bevolking van Hindoes en Boeddhiste.